Digitale fotografie

'n Nikon D700 12.1-megapieksel volraam DSLR
Die Canon PowerShot A95

Digitale fotografie is 'n moderne vorm van fotografie. Dit maak gebruik van digitale kameras met rye vol paneeltjies elektroniese fotosensors, wat beelde wat deur 'n lens gefokus word vaslê, in teenstelling met ligblootstelling aan fotografiese film. Die beelde word gedigitaliseer en as 'n rekenaarlêer in 'n geheuemedium (gewoonlik op 'n aparte skyfie) gestoor, gereed vir verdere digitale verwerking, besigtiging, digitale publikasie of druk.

Tot met die koms van sodanige elektroniese tegnologie, is foto's geproduseer deur ligsensitiewe fotografiese film en papier aan die ligbeeld bloot te stel, wat dan in vloeibare chemiese oplossings verwerk is om die beeld te ontwikkel en te stabiliseer. Digitale foto's word egter deur rekenaargebaseerde foto-elektriese en meganiese tegnieke geskep, sonder natbad chemiese verwerking soos met film.

Digitale fotografie is een van verskeie vorme van digitale beelde. Digitale beelde word ook geskep deur nie-fotografiese toerusting soos rekenaartomografieskandeerders en radioteleskope. Digitale beelde kan ook gemaak word deur die skandering van ander gedrukte fotografiese beelde of negatiewe.


From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Nelliwinne